Ek kom aangery na die McDonalds in Paarl se hoofstraat. “Wat de ongeluk!” dink ek, die tou motors staan amper tot by die stadsaal. Met moeite vind ‘n parkering en stap nader. Dit is ‘n miernes van aktiwiteit. “Mango, mango, die Gimmies doen die tango,” skree die dogters geklee in hul Girls’ High sweetpakke. Die opgewondenheid en gees loop hoog.
In die restaurant self was daar skaars plek vir ‘n muis en die McDonalds personeel het bont gestaan om bestellings te neem en te gee.
“Een McDonalds happy-meal coming up!”
Buite die restaurant heers ‘n partytjie. Kinders speel en jaag mekaar. Die onderwysers is ook daar en geniet hul melkskommels so tussen die drukkies van, en geselsies met leerders.
Ek het gekom om Mev Van Zyl te sien burgers flip, maar ek het iets heel anders gevind. Ek het ‘n gemeenskap gevind wat saamgekom het om vir die eerste keer in ‘n lang ruk weer oor iets opgewonde te wees. Die laerskool gemeenskap van Girls’ High en Boys’ High het op 'n koel aand by McDonalds die toon aangegee en warm gees gevang vir die ongelooflike twee weke wat moet kom.Uiteindelik was die McDonalds burgerflip ‘n heerlike aand van lag, gesels en geesvang!


Comments