Skip to main content

Why do we fall, Master Bruce?

 

Why do we fall, Master Bruce?
‘n Verhaal van teen die planke wees en met mag en mening terug te baklei.


“Why do we fall, Master Bruce?” is die vraag wat die dienskneg, Alfred Pennyworth, vir Bruce Wayne (alias Batman) vra as hy vir die soveelste keer val. Dit is ook sekerlik die vraag wat van die o.13A hokkiespelertjies vanaand vra, soos hulle lywe en hul harte seer is. 

Vanaand se o.13A hokkie wedstryd was ‘n titaniese stryd. Die eindtelling van 0-5 weerspieël nie die harde werk van die dogters nie. Daar is nie doekies om te draai nie, die span van Gimnasium was ‘n besondere sterk en gedetermineerde span. Hulle het gekom om te wen. 

Hulle het egter nie gereken op die hardnekkig weerstand en verdediging wat ons o.13 A-span geopenbaar het nie. Gimnasium se middelveld-spelers het van die begin af druk op ons geplaas. As toeskouer het jy daar gesit en naels gebyt. Het mens dit nie al so baie vantevore in sulke hoё druk wedstryde gesien nie? As sulke gedetermineerde spelers eers ‘n paar doele kry, vou hulle opposisie net onder die druk. Dit was nie die geval met ons o.13’s nie. Ja, hulle het die houe gevat, maar hulle het terugbaklei en soveel hart en karakter getoon. Ons verdediging en doelwagter het vasgebyt en dit nie maklik  vir die Gimmies gemaak om doele te kry nie. 

Aan die einde van die wedstryd was ek trots om myself agter die HMS-kamp te skaar. Daar is baie maniere van wen en nie elke oorwinning kan op ‘n telbord gemeet word nie. Soms is die moeilikste oorwinnings daardie oorwinnings wat jy oor jouself behaal. As jy aanhou as jou longe brand, as jy jouself dwing om terug te val, as jy keer wanneer ander dink dit is ‘n hopelose saak en as jy net nooit opgee nie, dan is jy ‘n wenner. Dít was HMS o13A hokkiespan!


Ja, as Bruce Wayne daar op die grond lê, gee Pennyworth hom ook sy “penny’s worth” en sê: “We fall, Master Bruce, so we can learn to pick ourselves up!”


Welgedaan o13’s, vir nooit opgee nie!




Comments