Skip to main content

Reën: Die amperse spanner in die wiel…

 


Reën: Die amperse spanner in die wiel…

Sjoe! Die verligting, eind goed alles goed. 

Vir die afgelope twee weke spook die bestuurspan en geleentheidskoördineerder van HMS Paarl met hierdie vraag: Wat as dit reën? Reën is altyd daardie wesenlike en onvoorspelbare bedreiging vir ‘n geleentheidskoördineerder. Natuurlik is reëlings in plek gesit vir sulke onvoorsienighede, maar in terme van die genieting van die dag en die afsluiting van die geleentheid sou sulke reëlings ‘n geweldige anti-klimaks gewees het.

Ek dink al wat ‘n weerkanaal is, is deurgeklik: YR, Weather.com, Accuweather, WeatherSA en so kan jy aangaan. Vir lank het hul almal reën  vir Donderdagaand en 100% reën vir Vrydag voorspel. Daar moes besluite gemaak word, want Supersport blaas in ons nekke oor waar hul, hul uitsaaipunt moet opstel: Voor ons akkerbome of in die binnemuurse baan by La Rochelle? Dan hoe sou ondersteuners dit betyds maak van La Rochelle na die Girls’s High Astro om die hokkie te ondersteun? Ai toggie, Juffrou Marlene sou daardie gholfkarretjie soos ‘n formule 1 ressiesjaer op en af in die strate gery het… Nee, dit sou nie deug nie. 

Terug na die weerberigte met die hoop dat die wolke dalk sal lig op ons mooi dag.

Maandag, 25 Julie, bied weather.com hoop en voorspel ‘n 30% kans vir reën. My geografie onderwyser het vir my verduidelik 30% kans vir reën beteken dat as die area in blokke opgedeel word, is daar net ‘n kans dat dit gaan reën in drie uit die tien blokke (toemaar, ek weet my geografie laat veel te wense). Ons moes net glo dat Hoogstraat nie onder die 30% val nie. Mevrou Van Zyl het soos ‘n ware leier die besluit gemaak: Interskole 2022 sal op die gronde van Hoër Meisieskool aangebied word of dit nou reën of nie...

Vrydag het gekom en mens was amper op moedverloor stasie, want die reënwolke het net alhoe digter begin saampak en teen twaalf-uur het dit gesous. Steeds het ons geglo… Blaarblasers is in gereedheid gebring om die water van die bane af te blaas, lakens en handdoeke is nader gesleep. Ons Interskole koördineerder, Mev. Marielouw van der Merwe, se senuwees was aan flarde. Gelukkig het dit ligter begin reën om ongeveer half-twee en wonderbaarlik het die gedrup, net voor drie gestop. Mev. Van Zyl se waagstuk was die moeite werd.

Met genade het beide ons onder o.18A netbal- en hokkiespanne voor ‘n vol skare en sonder ‘n druppel reën gespeel. Ja, amper was die reën ‘n spanner in die wiel van ‘n mooi geleentheid. 

Interskole 2022 het ‘n herlewing van die interskole tradisie gebring, maar dit is ‘n herlewing wat deurdrenk  is met die gevoel van dankbaarheid. Die wete dat al ons mooiste planne deur die reën weggespoel kon gewees het,  moet ons tot diep dankbaarheid stem dat ons as gemeenskap die kans gegun is om op ‘n koel en klam namiddag tog ons spanne aan te moedig. Ons moet  ontvanklik wees vir die simboliek van die reën op hierdie geleentheid. As gemeenskap is ons deur baie die afgelope ses jaar: Ons grond was gekraak onder die felheid van die droogte en toe dit weer begin reën en damme volloop, is ons in ons huise ingedryf en gemasker. Met vrees het ons buitentoe gekyk op ons hoede vir die onsigbare vyand. Ons het familie en vriende verloor en het ons eie nietigheid besef. 

Daar was inderdaad ‘n stadium wat ons die terugkeer na hierdie normaal van spanne langs die sportveld ondersteun as ‘n onmoontlikheid beskou het. Dit is juis hoekom ons moet ag slaan op die simboliek van die reën wat ons sportvelde en gemoedere kom skoonspoel het en toe gewyk het om aan ons hierdie tweede kans te gun om in dankbaarheid te speel, te sing en te geniet.




Comments

Popular posts from this blog

C for Concentration, Courage & Commitment!

  C for Concentration, Courage & Commitment! Paarl, 28 July 2022 By Jacqueline Swart   The u/18C girls hockey match caused many stomachs to turn on the pavilion. Students from both schools came to support their friends with flags, posters, and cheer.  Both teams were strong and challenged each other. Paarl Gim scored the first goal, and had the ball for the most of the first half, but Paarl Girls’ High came back strong in the second half. When the score read 3-1 with only a few minutes left Girls’ High was confident that we would win, but Paarl Gim had strong players who persevered and they scored a second goal.  One minute left. 3-2. Paarl Gim gets an attacking short corner. Everyone is quiet… the audience watch quietly in anticipation… It is the dying moments of the match. Gimnasium pushed the ball out to the castle. A to and fro followed in the circle, finally Girls High managed to pass the ball out of the circle into the dead zone. Time has run out. As i...

Interskole 2022: Herleef en Herinterpreteer

Interskole 2022: Herleef & Herinterpreteer… Die Interskole 2022 week vir Hoër Meisieskool nader die einde. Gister was ‘n heerlike dag wat begin het met ‘n BigBrag, voortgesit is met aksie-belaaide netbal en hokkie en geëindig het met ‘n heerlike ouer bring-en-braai. Aan die einde van hierdie besondere dag wou ek graag iets skryf oor die erfenis van interskole en HMS Paarl se deelname daaraan. Ek wou iets skryf oor hoe ons, ons ryke tradisie laat herleef het. Ek het begin navorsing doen. Ek wou meer weet oor HMS se eerste wedstryde en deelname aan interskole. Ons praat baie van die die ryke tradisie en al die herinneringe, maar oor die algemeen weet ons nie veel daaroor nie. Die resultate wat vassteek is ook net die van die HJS/ Gim wedstryde. As jy terugdink sou jy jouself kon flous dat Interskole slegs tussen HJS en Gimnasium plaasvind. Hierdie idee word versterk deur die media. Soek jy inligting op die internet ongeag jou soekwoorde, is die resultaat eenvormig dat Interskole gaan...

Kom ons praat A-spanne.

  Kom ons praat A-spanne. Eerste Spanne (Foto en Kopiereg: EJ Langner) Sport is ‘n duiwel. Die telbord weerspieël nie altyd die passie waarmee daar gespeel is nie. Dit was die geval vir die o.18 A netbal- en hokkiespanne van Hoër Meisieskool en Paarl Gimnasium. Die twee skole se A-spanne het hulle harte op die veld/baan uitgespeel en alles vir hul spanne gegee. Die uitkomste in beide wedstryde was net van so aard dat mens ‘n tree moet teruggee en jou hoed afhaal vir die wenspan en sê: “Sjoe! Dit was nou goed gespeel.” Renezia en Adri in aksie (foto: EJ LANGNER) As ons begin met die o.18A netbalwedstryd (en julle moet verskoon hierdie is kommentaar van ‘n netbal-leek). Die reën het gewyk en ‘n skouspelagtige wedstryd kon gespeel word. In die eerste kwart van die wedstryd was dit ‘n redelike heen-en-weer besigheid met HMS wat ‘n doel inskiet en dan Paarl Gimnasium, maar aan die einde van die eerste kwart het die volgehoue druk van die HMS-span die damwal bietjie laat kraak en gelei t...