Skip to main content

Reën: Die amperse spanner in die wiel…

 


Reën: Die amperse spanner in die wiel…

Sjoe! Die verligting, eind goed alles goed. 

Vir die afgelope twee weke spook die bestuurspan en geleentheidskoördineerder van HMS Paarl met hierdie vraag: Wat as dit reën? Reën is altyd daardie wesenlike en onvoorspelbare bedreiging vir ‘n geleentheidskoördineerder. Natuurlik is reëlings in plek gesit vir sulke onvoorsienighede, maar in terme van die genieting van die dag en die afsluiting van die geleentheid sou sulke reëlings ‘n geweldige anti-klimaks gewees het.

Ek dink al wat ‘n weerkanaal is, is deurgeklik: YR, Weather.com, Accuweather, WeatherSA en so kan jy aangaan. Vir lank het hul almal reën  vir Donderdagaand en 100% reën vir Vrydag voorspel. Daar moes besluite gemaak word, want Supersport blaas in ons nekke oor waar hul, hul uitsaaipunt moet opstel: Voor ons akkerbome of in die binnemuurse baan by La Rochelle? Dan hoe sou ondersteuners dit betyds maak van La Rochelle na die Girls’s High Astro om die hokkie te ondersteun? Ai toggie, Juffrou Marlene sou daardie gholfkarretjie soos ‘n formule 1 ressiesjaer op en af in die strate gery het… Nee, dit sou nie deug nie. 

Terug na die weerberigte met die hoop dat die wolke dalk sal lig op ons mooi dag.

Maandag, 25 Julie, bied weather.com hoop en voorspel ‘n 30% kans vir reën. My geografie onderwyser het vir my verduidelik 30% kans vir reën beteken dat as die area in blokke opgedeel word, is daar net ‘n kans dat dit gaan reën in drie uit die tien blokke (toemaar, ek weet my geografie laat veel te wense). Ons moes net glo dat Hoogstraat nie onder die 30% val nie. Mevrou Van Zyl het soos ‘n ware leier die besluit gemaak: Interskole 2022 sal op die gronde van Hoër Meisieskool aangebied word of dit nou reën of nie...

Vrydag het gekom en mens was amper op moedverloor stasie, want die reënwolke het net alhoe digter begin saampak en teen twaalf-uur het dit gesous. Steeds het ons geglo… Blaarblasers is in gereedheid gebring om die water van die bane af te blaas, lakens en handdoeke is nader gesleep. Ons Interskole koördineerder, Mev. Marielouw van der Merwe, se senuwees was aan flarde. Gelukkig het dit ligter begin reën om ongeveer half-twee en wonderbaarlik het die gedrup, net voor drie gestop. Mev. Van Zyl se waagstuk was die moeite werd.

Met genade het beide ons onder o.18A netbal- en hokkiespanne voor ‘n vol skare en sonder ‘n druppel reën gespeel. Ja, amper was die reën ‘n spanner in die wiel van ‘n mooi geleentheid. 

Interskole 2022 het ‘n herlewing van die interskole tradisie gebring, maar dit is ‘n herlewing wat deurdrenk  is met die gevoel van dankbaarheid. Die wete dat al ons mooiste planne deur die reën weggespoel kon gewees het,  moet ons tot diep dankbaarheid stem dat ons as gemeenskap die kans gegun is om op ‘n koel en klam namiddag tog ons spanne aan te moedig. Ons moet  ontvanklik wees vir die simboliek van die reën op hierdie geleentheid. As gemeenskap is ons deur baie die afgelope ses jaar: Ons grond was gekraak onder die felheid van die droogte en toe dit weer begin reën en damme volloop, is ons in ons huise ingedryf en gemasker. Met vrees het ons buitentoe gekyk op ons hoede vir die onsigbare vyand. Ons het familie en vriende verloor en het ons eie nietigheid besef. 

Daar was inderdaad ‘n stadium wat ons die terugkeer na hierdie normaal van spanne langs die sportveld ondersteun as ‘n onmoontlikheid beskou het. Dit is juis hoekom ons moet ag slaan op die simboliek van die reën wat ons sportvelde en gemoedere kom skoonspoel het en toe gewyk het om aan ons hierdie tweede kans te gun om in dankbaarheid te speel, te sing en te geniet.




Comments

Popular posts from this blog

Why do we fall, Master Bruce?

  Why do we fall, Master Bruce? ‘n Verhaal van teen die planke wees en met mag en mening terug te baklei. “Why do we fall, Master Bruce?” is die vraag wat die dienskneg, Alfred Pennyworth, vir Bruce Wayne (alias Batman) vra as hy vir die soveelste keer val. Dit is ook sekerlik die vraag wat van die o.13A hokkiespelertjies vanaand vra, soos hulle lywe en hul harte seer is.  Vanaand se o.13A hokkie wedstryd was ‘n titaniese stryd. Die eindtelling van 0-5 weerspieël nie die harde werk van die dogters nie. Daar is nie doekies om te draai nie, die span van Gimnasium was ‘n besondere sterk en gedetermineerde span. Hulle het gekom om te wen.  Hulle het egter nie gereken op die hardnekkig weerstand en verdediging wat ons o.13 A-span geopenbaar het nie. Gimnasium se middelveld-spelers het van die begin af druk op ons geplaas. As toeskouer het jy daar gesit en naels gebyt. Het mens dit nie al so baie vantevore in sulke hoё druk wedstryde gesien nie? As sulke gedetermineerde speler...